Episodes

  • Psalm 9:10,11 Vir die mens wat in gevaar verkeer, is die Here 'n toevlug, 'n skuilplek in tye van nood. Daarom vertrou almal wat u Naam bely, op U, want U, Here, laat dié wat vra na u wil, nie in die steek nie.

    Ek verstaan; jy is elke dag besig om jouself oorhoeks te werk, om ‘n regte ou werkesel te wees, om 'n goeie lewe te probeer lei; om te probeer om aan almal se verwagtinge te voldoen; en as jy ‘n kind van God is, ook aan sy verwagtinge te probeer voldoen.

    Wel, dit is wonderlik. Dit is hoe dit moet wees. Ons het gister, as jy nog kan onthou, gesels oor die feit dat jy soms, selfs wanneer jou siel en jou lyf vir jou skree om op te gee, jy maar net moet opstaan, begin een voet voor die ander sit, en aangaan met dít wat God jou roep om in hierdie lewe te vermag. Maar niemand het ooit gesê jy moet dit alleen doen nie. Maar...

    Psalm 9:10 Vir die mens wat in gevaar verkeer, is die Here 'n toevlug, 'n skuilplek in tye van nood. Daarom vertrou almal wat u Naam bely, op U, want U, Here, laat dié wat vra na u wil, nie in die steek nie.

    Ek weet nie mooi hoe jy daaroor voel nie, maar hierdie versekering maak my opgewonde, dit laat my gees juig. Dit lig my oë op, in plaas daarvan om na my voete te staar terwyl ek elke dag voortbeur. Ja dit lig my oë op na die majesteit van hierdie God wat, op die oomblik wat ek oorweldig word deur die gewig van my probleme, vir my die deur oopmaak sodat ek na Hom – die Skepper van die Heelal – kan hardloop vir veiligheid, vir bemoediging, vir beskerming.

    Kom ons haal diep asem en laat dit insink. God is hier by jou. Sy deur staan wawyd oop … vir jou! En wanneer jy na Hom toe kom, sal jy nie sonder sy hulp weggaan nie!

    Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

  • Esra 10:4,5 Die saak is in u hande. Ons ondersteun u. Staan op, pak dit aan en doen dit.” Esra het toe opgestaan en die leiers van die priesters en die Leviete en ook die hele Israel 'n eed laat aflê dat hulle dit sou doen. Hulle het die eed afgelê

    Wanneer dinge heeltemal skeefloop, wanneer jy teenkanting in die gesig staar, wanneer dit seer maak, wanneer jy bang en verslae voel, roep jou siel diep in jou binneste uit – stop, gee moed op!

    Die rede waarom ek dit weet, is omdat ek meer as een keer al daar was – eintlik baie keer – in my persoonlike lewe en veral ook in die bediening van Christianityworks, waarby ek die afgelope paar dekades betrokke is. Jy voel totaal oorweldig. Jy wil net vir 'n rukkie afskakel, dan vang ‘n situasie jou onkant en jy wil net omdraai en huis toe gaan.

    Esra, die Ou-Testamentiese profeet, het voor 'n ongelooflike uitdagende taak te staan gekom. Israel het na sewentig jaar van ballingskap in Babilon teruggekeer na die Beloofde Land. Die plek en die mense was in chaos. Jerusalem moes totaal herbou word en die Israeliete self, God se eie mense, het ook ernstige dissiplinering en opheffing nodig gehad, aangesien hulle keer op keer deur hul eie bose dade verwoes is.

    Nouja mense, dit was meer as genoeg om Esra te laat tou opgooi en huis toe gaan. Maar hy was die leier wat God vir hierdie oorweldigende taak aangestel het. Toe sê die mense vir hom...

    Esra 10:4,5 Die saak is in u hande. Ons ondersteun u. Staan op, pak dit aan en doen dit.” Esra het toe opgestaan en die leiers van die priesters en die Leviete en ook die hele Israel 'n eed laat aflê dat hulle dit sou doen. Hulle het die eed afgelê

    Ja, my vriend, party dae moet ons net vasbyt, opstaan en stap; een voet na die ander neersit, en dít waarvoor God ons roep, doen. Ek weet dit is dalk nie wat jy wil hoor nie, maar dit is waar.

    Staan op, pak dit aan en doen dit. Dit is jou verantwoordelikheid.

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

  • Missing episodes?

    Click here to refresh the feed.

  • 2 Kronieke 30:9 As julle terugkom na die Here toe, sal julle broers en julle seuns medelye vind by dié wat hulle gevange weggevoer het en sal hulle na hierdie land toe terugkom. Die Here julle God is genadig en barmhartig. Hy sal nie afsydig staan as julle na Hom toe terugkom nie.”

    Weet jy wat my opval van hierdie tyd waarin ons leef? Daar is soveel ellende in die lewens van so baie mense, dat dit jou verstand te bowe gaan. Hoe kan so baie mense so swaarkry?

    Hoekom praat ek vandag oor so ‘n negatiewe onderwerp? Hier by Christianityworks het ons 'n webwerf – PowerfulPrayer.org – waar duisende mense van dwarsoor die wêreld hul gebedsversoeke stuur sodat ons span intersessors vir hulle kan bid.

    Ek bid self ook vir soveel mense as wat ek kan. Hulle dringende behoeftes en die haglike situasies waarvoor so baie van hulle gebed vra, breek my hart.

    Kan jy jou vir een oomblik indink hoeveel miljoene, miskien biljoene desperate gebede daagliks tot God opgaan? Kan jy net dink hoe sy hart vir ons brand – ja, vir jou en vir my ook. En al hierdie ellende is 'n direkte gevolg van die sonde van die mensdom - ja, my sonde en jou sonde ook.

    Maar al is al hierdie pyn, en ons eie desperate toestand, aan ons eie toedoen te danke, wil God graag vandag hierdie woorde van bemoediging vir ons gee:

    2 Kronieke 30:9 As julle terugkom na die Here toe, sal julle broers en julle seuns medelye vind by dié wat hulle gevange weggevoer het en sal hulle na hierdie land toe terugkom. Die Here julle God is genadig en barmhartig. Hy sal nie afsydig staan as julle na Hom toe terugkom nie.”

    Hoe gaan dit met jou verhouding met die Here? Dit maak nie saak hoe ver jy van Hom af weggedwaal het nie, Hy nooi jou om terug te kom.

    Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

  • Psalm 143:10 Leer my om u wil te doen, want U is my God! Laat u goeie Gees my op 'n gelyk pad lei.

    Een van die duidelikste eienskappe van nederigheid wat enigeen van ons ooit kan hê, is 'n leerbare gees.Trouens daarsonder kan jy nooit werklik 'n nederige lewe lei nie.

    Nederigheid is 'n ongelooflike mooi ding, veral by talentvolle of invloedryke mense. Ons vind nederigheid so aantreklik in ander, omdat dit op een of ander manier hul menslikheid na vore bring. Hulle verneder hulself en daal af tot op ons vlak; hulle betree ons ruimte; hulle gee om vir ons op 'n manier wat arrogante mense of mense met ‘n aggressiewe persoonlikheid nooit sou doen nie.

    Nouja, sê vir my hoe neem ander mense jou waar? Komaan, wees eerlik. Jy het jou vaardighede, jou vermoëns en jou talente in die lewe – dinge wat jy beter as omtrent enigiemand wat jy ken, kan doen. Bring jy dit in nederigheid na die onderhandelingstafel, of is jy soms geneig om mense met jou hooghartigheid en trots te verneder en minderwaardig te laat voel?

    Koning Dawid was destyds die magtigste man in Israel. Hy het nie net die mag van lewe en dood oor sy onderdane gehad nie, maar hy het 'n vreesaanjaende reputasie as 'n vegter, wat Israel deur soveel veldslae tot oorwinning gelei het, ontwikkel. Hy was uiters talentvol. Hy was magtig. En tog het hy so gebid:

    Psalm 143:10 Leer my om u wil te doen, want U is my God! Laat u goeie Gees my op 'n gelyk pad lei.

    Dawid het 'n leerbare gees gehad. 'n Hart met 'n diep verlange om nie net God se weë te leer ken nie, maar om dit te volg. En deur sy lang en moeilike ervarings het Dawid geweet, dat wanneer hy aan God gehoorsaam was, die Gees van God hom op veilige paaie sou lei.

    Mag ek en jy ook ‘n wens soos hierdie openbaar … Wees vir my soos ’n onderwyser. Leer my om te doen wat U wil hê, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei sodat ek min probleme op my lewenspad het.

    Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

  • 2 Timoteus 1:7 Want God het ons nie ’n gees van lafhartigheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing. (NLV)

    Hoe ver beweeg jy elke dag? Miskien pendel jy werk toe en terug. Miskien gaan jy ook uit om te draf of te stap. Elke nou en dan gaan jy dalk op 'n langer reis. Dink ‘n bietjie: hoe ver beweeg jy gemiddeld elke dag?

    Volgens 'n onlangse artikel in die BBC se ‘Science Focus Magazine’ beweeg die aarde daagliks sowat 2,5 miljoen kilometer op sy wentelbaan om die son, en19 miljoen kilometer in verhouding tot die middel van die Melkweg, ons sterrestelsel.

    Afhangend van jou perspektief, beteken dit dat jy, sonder dat jy dit ooit besef, ook elke dag tussen twee en 'n half en negentien miljoen kilometer deur die ruimte beweeg. Dit is die werklikheid van hoe jy deur die lewe reis. Slaan dit nie jou asem weg nie? Dit laat my spraakloos!

    Hier is nog 'n ewe verstommende waarheid oor hoe enigiemand wat in Jesus glo, deur die lewe reis:

    2 Timoteus 1:7 Want God het ons nie ’n gees van lafhartigheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing. (NLV)

    God – die Skepper van die Heelal – het sy Heilige Gees gestuur om in elkeen wat deur geloof, hul lewens vir Jesus gegee het, te woon. Met al daardie krag, met al daardie liefde, met al daardie selfbeheersing – meer as wat ek en jy ooit nodig sal hê – het Hy genoeg krag in sy kragsentrale voorberei vir jou om die lewe, wat Hy vir jou beplan het, ten volle te kan leef.

    My vriend, wanneer jy jou vertroue in Jesus plaas, is jy nooit alleen nie. Jy het altyd al die krag, liefde en selfbeheersing wat jy ooit nodig sal hê om deur die versoekings en beproewings van hierdie wêreld te kom.

    Moet dus nie bang wees nie. Jy het dit alles.

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

  • Handelinge 17:30,31 God het wel mense se vroeëre onkunde oorgesien, maar nou roep Hy alle mense oral op om die afgode te los en hulle tot Hom te bekeer. Hy het immers ’n dag bepaal waarop ’n Man wat Hy beskik het, in geregtigheid oor die wêreld gaan oordeel. As bewys vir almal wie dié Man is, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.” (NLV)

    Wel, vandag is daar goeie nuus en daar is slegte nuus. Kom ons begin met die Goeie Nuus: God het jou ongelooflik lief en Jesus het vir jou sonde kom sterf sodat jy volkome vergewe kan word. Die slegte nuus is dat as jy nie die goeie nuus wil aanvaar nie, en nie daaruit wil leef nie, Hy jou sal oordeel en jou na daardie Christuslose ewigheid, wat ons die hel noem, stuur.

    Ek weet, ek weet. Hier in die 21ste eeu lyk dit vir so baie mense net belaglik. Regtig? Dis daardie spul Christene nog hierdie onregverdige leuens op? Hoe kan hulle liefdevolle God moontlik mense hel toe stuur? Komaan! Of dalk glo jy diep in jou hart, die Goeie Nuus van Jesus, maar dalk leef jy jou lewe op 'n manier wat jou 'n bietjie ongemaklik laat voel? Goed, maar kom ons kyk wat God se beskouing hiervan is:

    Handelinge 17:30,31 God het wel mense se vroeëre onkunde oorgesien, maar nou roep Hy alle mense oral op om die afgode te los en hulle tot Hom te bekeer. Hy het immers ’n dag bepaal waarop ’n Man wat Hy beskik het, in geregtigheid oor die wêreld gaan oordeel. As bewys vir almal wie dié Man is, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.” (NLV)

    Ja, ons moet dit glo wanneer ons ons geloof in Jesus stel. Maar 'n sleutel deel van hierdie Goeie Nuus is ons reaksie – om te verander en Hom te volg. Soos A.W. Tozer dit stel: "Die idee dat God 'n rebel sal vergewe wat nie sy rebellie prysgegee het nie, is teenstrydig met die Bybel en ook met ‘n gesonde verstand."

    Verander en volg Hom.

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

  • Matteus 5:14-16 Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie! ’n Mens steek ook nie ’n lamp op en maak dit onder ’n emmer toe nie. Inteendeel! Jy sit dit bo-op ’n lampstaander. Dan maak dit lig vir almal in die huis. “Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ’n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys!” (NLV)

    Skynheiligheid en selfbedrog gaan hand aan hand. Iemand wie se dade nie met hul woorde ooreenstem nie, is baie beslis ’n huigelaar. Maar weet jy, baie dikwels word daardie skynheiligheid deur selfbedrog aangevuur. Huigelaars kyk in die spieël, maar bly heeltemal blind vir hul ellendige toestand.

    Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat die ergste soort huigelaar 'n godsdienstige een is. En dit is nie net ek wat so dink nie. Jesus het die skynheilige godsdiensleiers van sy dag absoluut aan flarde geskeur. En jy hoef nie baie ver te kyk om te sien dat vir baie, sogenaamde Christene, niks verander het nie. Richard Rohr, ‘n Franciskaanse monnik stel dit so:

    Christenskap is 'n leefstyl – dit is veronderstel om die lewe ongekompliseerd, nie-gewelddadig en liefdevol te maak en met ander te deel. Maar ons het dit egter in 'n vaste "godsdiens" (en alles wat daarmee saamgaan) gegiet en die verandering van lewenstyl self vermy. 'n Mens kon tydens die grootste deel van die Christelike geskiedenis oorlogsugtig, gierig, rassisties, selfsugtig en ydel wees en tog sê dat Jesus jou "persoonlike Here en Verlosser" is. Maar die wêreld het nie meer tyd vir sulke lawwigheid nie. Die lyding op hierdie aarde is te groot.

    Jesus het oor hierdie onversoenbare kloof tussen geloof en dade gepraat en gesê:

    Matteus 5:16 Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie! ’n Mens steek ook nie ’n lamp op en maak dit onder ’n emmer toe nie. Inteendeel! Jy sit dit bo-op ’n lampstaander. Dan maak dit lig vir almal in die huis. “Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ’n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys!” (NLV)

    Tensy ons daardie lig uitstraal, mislei ons onsself. Moenie skynheilig wees nie.

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

  • Matteus 4:17 Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

    Myns insiens is die heel beste soort humor die soort wat jou laat lag maar ook stof tot nadenke bied; die soort wat snaaks is, maar terselfdertyd so na aan die waarheid kom dat dit jou tot in jou diepste wese skud.

    Ek het onlangs daardie einste soort humor in 'n boodskap op sosiale media raakgeloop. Dit was 'n tekening van Jesus wat vir 'n skare preek met hierdie Bybel versie daarby:

    Matteus 4:17 Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

    Terwyl een ou in die skare vir die volgende ou sê: Vir die Seun van God is Hy nie baie verdraagsaam nie, is Hy?

    Verdraagsaamheid teenoor alle dinge het die slagspreuk van die eeu geword. Jy moet volgens hedendaagse sosiale norme verdraagsaam wees teenoor mense met allerhande vreemde perspektiewe, alle lewenstyle, elke vorm van onsedelikheid en elke perversie, elke arrogansie, elke … wel. Ja, verdraagsaamheid, is beslis die modewoord van ons dag. Jy word verwerp indien jy letterlik net ‘n sweempie van onverdraagsaamheid teenoor die kultuur se standaarde toon, selfs wanneer daardie onverdraagsaamheid baie duidelik op ‘n bose ding gemik is.

    Jesus se waarskuwing was beslis nie vir almal aanvaarbaar nie: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Daardie koninkryk waarvan Jesus praat, is die soewereine heerskappy van God oor hierdie aarde. Dit is God wat, volgens Jesus, die lewendes en die dooies sal oordeel en Hy wat die mense wat nie in sy Seun glo nie, sal stuur na 'n Christuslose ewigheid wat die hel genoem word.

    So, hoe pas jy dit in jou lewe toe? Wel, jy het ‘n keuse: jy kan Jesus sien as 'n goeie persoon met 'n paar wyse beginsels om volgens te leef. Of jy kan Hom heeltemal ignoreer, soos wat baie mense doen. Of jy neem sy aansporing en sy waarskuwing ter harte:

    “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

  • Lukas 6:27-31 Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word. As iemand jou op die een wang slaan, bied hom ook die ander een aan. En vir iemand wat jou boklere vat, moet jy ook jou onderklere nie weier nie. Aan elkeen wat iets vra, moet jy gee; en as iemand jou goed vat, moet jy dit nie terugeis nie. Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.

    Langdurige, verterende haat is so oud soos die berge. Dit het begin toe Adam en Eva se seun Kain sy broer Abel vermoor het, en tot vandag toe vernietig dit steeds op groot skaal lewens.

    Kyk na die Midde-Ooste; die konflikte oor die pragtige en hulpbron ryke kontinent van Afrika; die rassehaat in soveel dele van die wêreld; die vernietigende haatspraak in die politieke arena; die huwelike wat uitmekaar geskeur word wat die kinders se lewens vernietig.

    As ons maar net die haat van die planeet aarde kon uitwis. En tog leef dit voort in die harte van so baie mense. Dis so ‘n groot probleem dat Jesus vir gewone mense - mense soos ek en jy, gesê het:

    Lukas 6:27-31 Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word. As iemand jou op die een wang slaan, bied hom ook die ander een aan. En vir iemand wat jou boklere vat, moet jy ook jou onderklere nie weier nie. Aan elkeen wat iets vra, moet jy gee; en as iemand jou goed vat, moet jy dit nie terugeis nie. Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.

    Ja, dis beslis die radikaalste reaksie op haat in die geskiedenis van die mensdom! Jesus se standaard is heeltemal die teenoorgestelde van wat ons outomaties uit ons eie sou wou doen, nè?

    Ek is mal oor wat Brené Brown, die Amerikaanse maatskaplike werker en akademikus, gesê het: Dis moeilik om mense wat na aan jou is, te haat. Beweeg nader. Praat die waarheid … wees beskaafd. Vat hande met vreemdelinge. Behou jou beginsels met deernis en waagmoed.

    Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word.

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

  • Openbaring 7:9,10 Hierna het ek 'n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande. Hulle het hard uitgeroep: “Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!”

    Het jy al ooit gewens dat jy 'n blik op die ewigheid kan kry? Hoe sal dit wees? Is dit die moeite werd om hier op aarde te worstel sodat jy die ewigheid saam met God aan die Anderkant kan deurbring … of nie?

    Ek vermoed dat die meeste mense wat besluit het om hul lewe vir Jesus te leef, hulself al hierdie vraag afgevra het. Is dit alles regtig die moeite werd?

    Dis nie 'n onredelike vraag nie. Party dae is die versoeking so groot om net saam met die stroom te gaan; om te eet, te drink en vrolik te wees, om te swig voor die uitdagings: die oneerlikheid, die trots, die onsedelikheid, al daardie goed wat vandag in ons wêreld die norm geword het.

    Dit sal mos baie makliker wees om saam met die wolwe in die bos te huil, as om jou vyande lief te hê, om diegene te dien wat dit nie verdien nie, om diegene te vergewe wat jou seergemaak het … en nie net dit nie; maar om die ander wang te draai, die ekstra myl te loop?

    Om jou te help om daardie vraag vir jouself te beantwoord is hier ‘n blik op die ewigheid:

    Openbaring 7:9,10 Hierna het ek 'n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande. Hulle het hard uitgeroep: “Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!”

    As jy Jesus vertrou en as jy getrou aan Hom bly, sal jy eendag in daardie skare voor die troon staan … en daar sal jy Hom vir ‘n ewigheid, sonder einde, aanbid. Dit sal mos absoluut die moeite werd wees!

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

  • Johannes 16:31-33 Daarop sê Jesus vir hulle: “Glo julle nou? Kyk, daar kom 'n tyd, en dit is nou al hier, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen sy eie koers in, en dat julle My alleen sal laat; en tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader by My is. Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.

    Weet jy wat ek van Jesus bewonder en waarom ek Hom so liefhet? Ten spyte van die feit dat Hy die Seun van God is, die Skepper van die heelal is en alhoewel Hy geregtig is op soveel meer toewyding van jou en van my, laat Hy ons nie op ons eie voortsukkel nie.

    Daardie twaalf dissipels, die manne in sy binnekring, was 'n onvolmaakte spul. Hulle het Jesus gereeld in die steek gelaat – hulle het gestry, hulle het ‘n gebrek aan geloof openbaar– en toe dit die meeste saakgemaak het, het hulle Hom verlaat.

    Maar ten spyte van hulle prestasiegeskiedenis en ten spyte daarvan dat Hy geweet het, dat hulle Hom sou verlaat in daardie laaste, donker ure voor sy kruisiging, het Hy hulle getroos en bemoedig:

    Johannes 16:31-33 Daarop sê Jesus vir hulle: “Glo julle nou? Kyk, daar kom 'n tyd, en dit is nou al hier, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen sy eie koers in, en dat julle My alleen sal laat; en tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader by My is. Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.

    Dinge was op die punt om nog erger te word. Hulle het Hom gefaal. Hulle sou Hom in die steek laat. (Klink dit bekend?) Maar ten spyte van dit alles, eintlik as gevolg daarvan, het Hy gekies om hulle voor te berei; om hulle aan te moedig en om deur sy moedige voorbeeld, sy vrede aan hulle oor te dra … en dis iets wat Hy vandag nog met sy volgelinge doen.

    Dit is die waarheid dat ons Jesus dikwels al gefaal het en dat ons Hom in die toekoms weer en weer in die steek sal laat. Maar ten spyte van ons ontrouheid, seën Hy ons met sy voorbeeld, sy moed en sy vrede.

    ...maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

  • Hebreërs 11:6 As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.

    Die werklike stryd wat ons vandag in die gesig staar, vereis werklike geloof - aktiewe geloof. Geloof wat ook na vore kom wanneer dit moeilik gaan. Geloof wat ons help om die wêreld te oorwin.

    Het jy al ooit gewonder hoekom dit so is? Hoekom is dit die manier waarop God werk? Eerder as om net daar te wees en ons te help om die beproewinge en lyding te vermy, vereis Hy van ons 'n geloof in 'n God wat ons nie kan sien of aanraak en hoor of voel nie. Hoekom sou God dit doen?

    Die afgelope paar dae het ons gesels oor dié soort geloof wat die wêreld oorwin – die struikelblokke daar buite wat ons konfronteer en die hindernisse in onsself; ons vrese, ons swakhede en ons mislukkings.

    As God sigbaar, heeltemal toeganklik was, as Hy honderd persent van die tyd in ons lewens ingegryp het om enige soort pyn of lyding of selfs ongemak te voorkom, wel … stel jou so 'n ouer voor. Al waarmee jy uiteindelik mee sal eindig, is 'n klomp bedorwe kinders, nie waar nie?

    In plaas daarvan gee God, soos enige goeie pa, sy kinders die geleentheid om sy weë te volg; of nie, om goeie keuses te maak; of nie, om Hom te vertrou; of nie.

    Hebreërs 11:6 As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.

    My vriend, God is besig om jou geloof in Hom te laat groei en in die proses jou karakter te bou. Gebruik die geleentheid om in jou hart te glo dat Hy wel bestaan en dat Hy diegene beloon wat Hom soek wanneer teëspoed jou tref.

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

  • Hebreërs 11:29-34 Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het. Omdat die Israeliete geglo het, het die mure van Jerigo geval nadat hulle sewe dae daaromheen getrek het. Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam met dié wat aan God ongehoorsaam was nie. En wat moet ek nog meer sê? Die tyd ontbreek my om te vertel van Gideon, Barak, Simson en Jefta, van Dawid, Samuel en die profete. Deur die geloof het hulle koninkryke verower, die reg van God gehandhaaf en verkry wat God beloof het; hulle het leeus se bekke toegestop, gloeiende vuur geblus en aan die swaard ontkom; hulle het in swakheid krag ontvang, was sterk in oorlog en het die leërs van vreemdes op die vlug gejaag.

    Kom ek vra jou wat jy van die volgende stelling dink: Enige Christen wat nie besef dat hulle op 'n geestelike slagveld leef nie, mis die punt heeltemal. Heeltemal! Stem jy saam, of nie?

    Selfvoldaanheid is die dodelike vyand van die nuwe lewe waarvoor Jesus vir ons gesterf en opgestaan het. Ons wil dit dalk nie hoor nie, maar dit is hoekom so baie mense die ryk, oorvloedige lewe wat Hy vir hulle beplan het, misloop.

    Kom ons gee 'n tree terug. Hoe sou dinge verloop het as Israel nooit die Jordaanrivier na die Beloofde Land oorgesteek het nie? Wat sou gebeur het as hulle nie geglo het nie en in hul gemaksone gebly het?

    Hebreërs 11:29-34 Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het. Omdat die Israeliete geglo het, het die mure van Jerigo geval nadat hulle sewe dae daaromheen getrek het. Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam met dié wat aan God ongehoorsaam was nie. En wat moet ek nog meer sê? Die tyd ontbreek my om te vertel van Gideon, Barak, Simson en Jefta, van Dawid, Samuel en die profete. Deur die geloof het hulle koninkryke verower, die reg van God gehandhaaf en verkry wat God beloof het; hulle het leeus se bekke toegestop, gloeiende vuur geblus en aan die swaard ontkom; hulle het in swakheid krag ontvang, was sterk in oorlog en het die leërs van vreemdes op die vlug gejaag.

    Israel het nie net die Beloofde Land binne gewals nie. Hulle moes … veldslag vir veldslag daarvoor veg. En kyk na die res van God se mense in hierdie aangehaalde verse. Die geloofswandel was maar die een stryd op die volgende. Dit was nie maklik nie!

    Dit is hoe dit nog altyd was. Moenie selfvoldaan wees nie.

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

  • 2 Korintiërs 10:3-5 Natuurlik leef ons in 'n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie. Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak

    Wat is jou natuurlike reaksie wanneer struikelblokke op jou pad dreig om jou te pootjie? Hoe hanteer jy hulle? En as jy nou mooi terugdink, hoe suksesvol het jy hulle in die verlede hanteer?

    Hindernisse skep stres en lyding. Ja, as ons eerlik is, het ons nie onder daardie negatiewe omstandighede altyd die beste keuses gemaak nie. En die ander belangrike ding om te verstaan, is dat nie al die hindernisse daar is om so vinnig as moontlik te oorwin nie. Dikwels is dit iets in jou hart wat eers hanteer moet word.

    Kom ons kyk na ‘vestings’. Ons is geneig om aan hulle te dink as die een of ander donker geestelike krag of plek buite ons, wat ons moet oorwin. Maar miskien nie.

    2 Korintiërs 10:3-5 Ons lewe wel as mense, maar ons voer nie oorlog volgens menslike maatstaf nie; want die wapens van ons oorlogvoering is nie bloot menslik nie, maar hulle het goddelike krag om vestings te vernietig. Ons vernietig argumente en elke trotse struikelblok wat opgerig word teen die kennis van God, en ons neem elke gedagte gevange om Christus te gehoorsaam. (NRSV)

    Hierdie versie is die enigste plek in die Nuwe Testament waar die woord "vesting" gebruik word. Hier praat dit van die trotse gedagtes in die harte van gelowiges - dit is ek en jy! En daardie vestings daarbinne bedreig ons kennis van God. Skrikwekkend, nè!

    Ek dink aan so 'n vesting as een of ander opvatting, of een of ander gedragspatroon waaraan ons vasklou, wat in stryd is met dít wat God ons leer. En al probeer ons hoe hard, kan ons onsself nie losmaak daarvan om plek te maak vir die goeie dinge; die wysheid en die seëninge wat God vir ons beplan het nie.

    Dit is hoekom ons elke gedagte gevange moet neem om Christus te gehoorsaam.

    En dit is Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

  • Romeine 8:35-37 Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.

    Ek is redelik seker dat ons almal met die teorie saamstem dat indien jy die bul by die horings pak, die saak goed hanteer en korrek reageer, lyding 'n belangrike boublok in die vorming van jou karakter word. Maar wanneer dit by ons eie lyding kom, kan die teorie en die praktyk nogal dramaties van mekaar verskil.

    Die probleem met die teorie is dat dit rasioneel is. Dit leef in jou gedagtes, terwyl lyding jou emosies; jou hart aanval. Dit is hoekom ons sukkel om dít wat ons glo waar is, te midde van ons lyding, toe te pas.

    Baie keer in die lewe moet ons struikelblokke oorkom; daardie wonde diep binne-in ons siel en ook die aanvalle wat van buite af kom.

    Het jy opgelet hoe alleen jy tydens daardie proses voel? Twyfel sluip in. Ander mense verstaan nie waardeur jy gaan nie, en jy voel magteloos.

    Maar weet jy, ek wil vir jou sê dat jy net daar een van die kosbaarste geleenthede wat God jou ooit sal gee, gaan ervaar?

    Romeine 8:35-37 Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.

    Die apostel Paulus het toe hy daardie woorde geskryf het, ontsettende lyding ervaar; sy lewe was voortdurend bedreig. Sou jy in so ‘n lewensbedreigende situasie briewe aan gemeentes kon skryf? Maar hy hét, want dit was op daardie plek wat hy ontdek het dat niks – niks! – hom van die liefde van Christus kan skei nie. Hy het uit sy eie ervaring geleer dat ... ons in al hierdie dinge meer as oorwinnaars is deur Hom wat vir ons liefhet.

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

  • 1 Johannes 5:3-5 Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, want enigeen wat 'n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?

    Waarom laat God pyn en lyding in ons lewens toe? Waarom sukkel jy met dit waarmee jy nou te doen het? Behoort dinge nie vir diegene wat in Jesus glo net 'n bietjie makliker te wees nie?

    Miskien het ons deesdae die ware sin; die werklike doel en die diepere betekenis van lyding in ons lewens verloor. Lyding is universeel deel van die menslike ervaring. Daar is geen wegkom kans nie.

    Ryk of arm, in verdrukking of vry, in oorlog of in vrede, jy sal weer en weer ly. God, hoekom laat U toe dat dit met my gebeur?

    Ek sou vir jou die korrekte teologiese antwoord kon gee - dat die mensdom se sonde, wat begin het met Adam en Eva en daardie stukkie verbode vrugte, die hoofoorsaak van alles is. Help dit jou om sin te maak van jou lyding? Waarskynlik nie. Miskien sal dit:

    1 Johannes 5:3-5 Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, want enigeen wat 'n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?

    God wil hê jy moet die oorwinning wat Jesus deur sy lyding aan die Kruis vir jou behaal het, ervaar. Hy wil hê jou karakter moet gevorm, verfyn en gesuiwer word terwyl jy te midde van die ontbering van jou lyding, in gehoorsaamheid aan Hom leef.

    Die grootste beloning wat alles in jou lewe oortref … is die feit dat jou geloof sterker en sterker word.

    Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?

    Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

  • Efesiërs 2:8,9 Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie

    Geloof is 'n wonderlike gawe om te hê, veral as ons geloof in iets of iemand is wat nooit sal misluk nie. Maar hoe goed hou jou geloof stand tydens die soet en suur van die lewe? Is dit rotsvas, of is jou paadjie so nou en dan ‘n bietjie glibberig?

    Wanneer ons die wind van voor af kry, is een van die grootste probleme dat ons begin twyfel of God ons nog liefhet en of ons sonde en ons omstandighede dalk ons ewigheid saam met Hom in gevaar gestel het.

    Jou vyand, die duiwel, wil 'n wig tussen jou en die rotsvaste, onwrikbare genade van God, wat jou vandag, môre en vir altyd veilig sal hou, indryf. En hoe dieper daardie wig ingaan, hoe erger word die gevoel dat ons al hoe verder van God af wegdryf.

    Ek weet dat daar vandag iemand, iewers in die wêreld is, wat hierdie boodskap kyk, luister of lees, wat só voel. En indien jy nie vandag ver van God af voel nie; kan jy jouself beslis eendag op daardie plek bevind ….

    Maar kom ons kyk wat is God se kragtige, lewensreddende waarheid oor sy genade om daardie aanval van die duiwel aan te spreek:

    Efesiërs 2:8,9 Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.

    Ons geloof moet nooit, ooit gebaseer word op ons goeie werke om God te eer nie. Julle kan nooit julle redding verdien nie en die ‘goeie’ dinge wat jy probeer doen, gaan beslis van tyd tot tyd misluk. Ons geloof moet altyd, altyd gebaseer word op die offer wat Jesus aan die Kruis gebring het – want sy offer faal nooit nie.

    Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God.

    Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

  • 1 Petrus 1:24,25 Die Skrif sê: “Die mens is soos gras, en al sy prag soos 'n veldblom; die gras verdor en die blom val af maar die woord van die Here, dít bly vir ewig.” En hierdie woord is die evangelie wat aan julle verkondig is.

    Dit word al hoe moeiliker vir enigiemand wat in Jesus glo, om aan te hou glo wat in die Bybel staan. Stem jy saam? Miskien dink jy soos so baie mense om jou dat dit so verouderd is dat dit glad nie meer van toepassing op jou is nie. Wel, ek kan nie daarmee saamstem nie.

    Die 66 boeke van die Bybel is onder verskillende omstandighede deur verskillende mense, oor sowat 1 500 jaar geskryf. Dwarsdeur daardie tydperk en in die sowat 2 000 jaar sedertdien, het mense altyd daarteen gestry.

    God se eie volk, die Israeliete, het die profete wat Hy vir hulle gestuur het, verwerp. En onthou jy, hulle het Jesus, die Seun van God, gekruisig! Die kerk self het menigmaal deur die jare die Bybel teëgestaan. Die kerk het byvoorbeeld vir William Tyndale in 1536 op die brandstapel verbrand, omdat hy die Bybel uit Latyn na Engels vertaal het.

    Ja, die Bybel het 'n moeilike pad geloop, en tog is dit steeds met ons. Dit word steeds as God se boodskap aan ons geëer. Hoekom is dit?

    1 Petrus 1:24,25 Die Skrif sê: “Die mens is soos gras, en al sy prag soos 'n veldblom; die gras verdor en die blom val af maar die woord van die Here, dít bly vir ewig.” En hierdie woord is die evangelie wat aan julle verkondig is.

    Ek stem heelhartig saam met die teoloog R.C. Sproul, wanneer hy skryf: “Ons het geen reg om uit die perspektief van die 21ste eeu na ’n Bybelse teks te kyk en die betekenis daarvan te verander nie. As die perspektief van die 21ste eeu nie by die Bybel pas nie, is dit die perspektief wat verkeerd is, nie die Bybel nie.”

    die gras verdor en die blom val af maar die woord van die Here, dít bly vir ewig. En hierdie woord is die evangelie wat aan julle verkondig is.

    Dis sy Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

  • Romeine 12:1 Nou wil ek julle baie ernstig vra, broers en susters: As julle dink aan alles wat God in sy groot barmhartigheid vir julle gedoen het, gee dan julleself aan Hom as ’n lewende en heilige offer. Dit is dié soort offer waarvan Hy hou, en wat julle diens aan God werklik sinvol maak. (NLV)

    Die sentrale boodskap van die Evangelie – die 'Goeie Nuus'– is dat Jesus, die Seun van God, 'n mens geword het en vir ons sondes gesterf het, sodat die prys wat God se geregtigheid eis, betaal sou word, en as ons in Jesus glo, dan het ons die gawe van die ewige lewe. Dis dit.

    Dit is voorwaar goeie nuus. Trouens, dit is die beste nuus wat die mensdom – wat ek en jy – ooit sal ontvang. En as dit 'n boodskap is wat jy nog nie ontvang het nie, wil ek jou aanmoedig om vandag jou hart daarvoor oop te maak, om in Jesus te glo, met alles wat jy is.

    Die vraag is, sodra jy dit gedoen het, sodra jy finaal besluit het om te glo dat Jesus die weg, die enigste weg, na die Vader is, wat kom volgende? Hou ons net aan om die lewe te leef soos gewoonlik? Glad nie.

    Romeine 12:1 Nou wil ek julle baie ernstig vra, broers en susters: As julle dink aan alles wat God in sy groot barmhartigheid vir julle gedoen het, gee dan julleself aan Hom as ’n lewende en heilige offer. Dit is dié soort offer waarvan Hy hou, en wat julle diens aan God werklik sinvol maak. (NLV)

    God roep ons – om dit wat Hy vir ons gedoen het deur Homself te laat kruisig – om sy voorbeeld te volg; om dieselfde ding te doen. Om ons lewens as 'n lewende offer aan Hom te gee - 'n offer wat vir God welgevallig is.

    Jesus het die finale prys vir jou betaal. Die regte reaksie, die enigste reaksie daarop, is om jou lewe as 'n lewende offer aan Hom te bring; ‘n daaglikse offer wat uit jou hart uit kom.

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

  • Romeine 12:2 Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

    Kan ek jou vra: wat oorheers jou gedagtes? Waaraan dink jy onwillekeurig weer en weer? Jy sal met ‘n skok besef wat die antwoord van so ‘n onthullende oefening is, wanneer jy jouself afvra: wáároor jy dink.

    Vir sommige mense is dit geld en finansiële sekuriteit. Vir ander, 'n verhouding. Soms word ons gedagtes oorheers deur loopbaanaspirasies. Ander kere is daar 'n enkele probleem wat ons in die gesig staar wat dikwels in ons gedagtes opduik. Wat is daardie ‘ding’ op hierdie oomblik vir jou? Wat oorheers jou gedagtes?

    Dit kan 'n bietjie konfronterend wees, as jy in Jesus glo en God liefhet, om te besef dat baie van jou denke oorheers word deur die dinge wat jy wil hê. Jy dink die meeste van die tyd aan die dinge van hierdie wêreld, eerder as dit wat God wil hê – sy wil vir jou lewe. Miskien is dit tyd om hand in eie boesem te steek?

    Romeine 12:2 Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

    Wat wil God vir jou hê? Wel, dit kan 'n verskeidenheid van op- en afdraandes inhou. Maar wat ook al sy plan vir jou lewe is, jy kan absoluut seker hiervan wees: dat sy wil goed, perfek en volmaak is. Jy kan vir niks beter vra nie.

    Indien jy dalk in jou gedagtes en verlange van Hom af weggedryf het, roep God jou vandag terug.

    Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe - met 'n nuwe manier van dink.

    Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY