Episoder
-
Josh Strauss sluit hom vandeesweek op Rapport Praat Sport aan om te gesels oor die Ikeys se sege in die Varsitybeker-reeks. Strauss, voormalige losvoorspeler van die Leeus, Glasgow, die Bulle en natuurlik Skotland, is die Ikeys se voorspelerafrigter.
Hy vertel van ’n spanpraatjie wat die Bok-flank Schalk Burger eenkeer gelewer het en hoe hy in die kol was met sy bier-filosofie.
Strauss praat ook oor sy loopbaan, wat die toekoms vir hom inhou en hoe dit gevoel het om vir Skotland uit te draf.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur aan ons stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport -
In dié week se Rapport Praat Sport sluit Neil Powell, die Haaie se direkteur van rugby, hom by ons aan. Hy verduidelik die denkrigting agter die besluit om nie hul sterkste span na Lyon te stuur vir hul Uitdaagbeker-uitklopwedstryd daar nie.
Hy verklap ook wanneer Eben Etzebeth en Aphelele Fassi na verwagting hul terugkeer ná beserings sal maak, en sê die span gaan voluit gaan vir silwerware in die Verenigde Rugbykampioenskap.
Powell praat ook in diepte oor die span se kontrakteringsmodel, en gesels oor die Haaie se twee jong stersenters Jurenzo Julius en Ethan Hooker.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur vir ons stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport -
Manglende episoder?
-
In vandeesweek se Rapport Praat Sport gesels ons oor die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK), skolerugby en krieket.
Ons wonder hardop waarom die Haaie steeds nie volgens hul volle potensiaal presteer nie, maar besing ook Siya Kolisi se lof. Hy is tans die beste voorbeeld van die soort uithalerspel wat ’n gereelde Springbok vir sy plaaslike span moet lewer.
Die skolerugby-seisoen begin momentum optel en ons bespreek weer die vraag: Het skolerugby te professioneel geword? Stuur tradisionele rugbyskole nog goed gebalanseerde seuns die wêreld in ná skool?
Rob Walter het skielik uit sy pos as Protea-witbalafrigter bedank. Wat skuil daaragter en wie gaan hom opvolg?
Dit en nog baie meer, vandeesweek in Rapport Praat Sport.
• Ons wil ook baie graag van jou hoor! Stuur aan ons stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport -
Hendrik Cronjé vertel dié week in Rapport Praat Sport die Suid-Afrikaanse Rugbyunie het belangstelling van oorsese maatskappye gekry om die Springbokke se nuwe hoofborg te word, maar die aanbod wat Eerste Nasionale Bank (FNB) op die tafel geplaas het, was eenvoudig te goed om te ignoreer.
Skielik, sê Hendrik, is Suid-Afrikaanse rugby in ’n baie gesonde posisie.
Die voormalige 400 m-hekkiesatleet LJ van Zyl sluit hom ook by ons aan om te gesels oor die prestasies van atlete soos Bayanda Walaza en Prudence Sekgodiso. Ons betree nou ’n goue era wat atletiek in Suid-Afrika betref, sê hy.
LJ vertel ook meer oor sy doktorale studie, wat fokus op 11 Olimpiërs se lewensreise en ook kyk na die lewe ná sport.
Ons wil ook baie graag van jou hoor! Stuur aan ons stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport -
Vandeesweek se Rapport Praat Sport is ’n spesiale een: Die legendariese Jimmy Stonehouse, Puma-afrigter, sluit hom by ons aan. Hy praat padlangs oor die uitdagings wat die Pumas in die gesig staar, oor die huidige rugby-milieu en hoe dit in die laaste paar jaar verander het, maar ook oor dít wat hulle steeds in Mbombela regkry.
Jimmy sê hoe belangrik dissipline en respek vir hom is – soveel so dat hy verlede jaar ’n paar spelers weggejaag het: “En dit het ons ’n plek in die halfeindronde gekos.”
Hy wei ook uit oor die belangrikheid van internasionale deelname vir ’n span soos die Pumas en sê ook wat hom laat tiek: “As iemand my vra wanneer het jy dit gemaak, sê ek as jy opstaan en jy is gelukkig met wat jy doen. Then you’ve made it.”
Ons wil ook baie graag van jou hoor! Stuur aan ons stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport -
In dié week se Rapport Praat Sport bespreek Tinus van Staden en Fanie Heyns die jongste transformasie-herrie in Suid-Afrikaanse Krieket. Die Warriors is met ’n boete van R500 000 gelooi én is hul plek in die Eendagreeks se uitspeelwedstryde kwyt omdat hulle sonder toestemming nie aan KSA se transformasieteikens voldoen het vir ’n kragmeting met die Dolphins nie.
Ons bespreek dié situasie en kyk ook na transformasie in die breë in Suid-Afrikaanse krieket. Word genoeg gedoen om te verseker die Proteas het ’n groot en diverse talentpoel om uit te kies? Indien nie, wat kan nog gedoen word? Wanneer gaan ons die punt bereik waar teikens oorbodig is?
Ons wil ook baie graag van jou hoor! Stuur aan ons stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport -
Springbok-nuus is volop: Felix Jones keer terug, Handré Pollard word weer ’n Bul . . . en Rassie Erasmus het Woensdag op sy eerste mediakonferensie van die jaar onthul hy wil nóg drie Bok-wedstryde – twee toetse en ’n kragmeting met die Barbarians – tot die span se skedule vir 2025 voeg. Dit sal beteken Suid-Afrika speel vanjaar in 15 wedstryde. ’n Propvol rugby-spyskaart!
Hendrik Cronjé sê Pollard gaan een van die grootste plaaslike kontrakte tot nog toe kry, maar hy is steeds agter Siya Kolisi in die tou van Suid-Afrikaanse rugbyspelers met die beste inkomste.
Ons wonder ook hardop wat Tony Brown dink van Jones se terugkeer. Tony is immers in sy voormalige pos aangestel . . .
Hendrik sê ook Erasmus, Jones, Jerry Flannery en Jacques Nienaber is steeds saam op ’n WhatsApp-groepie.
Ons wil ook baie graag van jou hoor! Stuur aan ons stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport -
In vandeesweek se Rapport Praat Sport kyk ons terug op die spogloopbaan van Steven Kitshoff en hoor ook sy raad vir spelers wat die lewe ná rugby betref.
Hendrik Cronjé verklap ook hy werk aan ’n berig vir Sondag oor die Stormers se opvolgplan ná Kitshoff se uittrede.
Ons gesels ook oor die moeilike oorgang van rugbyspeler na die “gewone lewe” en bekyk Wêreldrugby se vreemde regulasies wat Benhard Janse van Rensburg nou dalk gaan verhinder om vir Engeland te speel.
Ons wil ook baie graag van jou hoor! Stuur aan ons stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport -
Philip Snyman, die Blitsbok-breier, vertel dié week in Rapport Praat Sport hoe hy lesse by dié span toepas wat hy by die Springbok-afrigter Rassie Erasmus geleer het. En dit handel natuurlik ook oor Erasmus se slim planne wat spansamestelling betref.
Die Blitsbokke speel dié naweek in die Vancouver-toernooi van die Wêreld-sewesreeks, en Snyman vertel hoe hy sy groep vir die toernooi gekies het.
Snyman sê ook: “Skryf dié jong man se naam neer, hy is spesiaal...”
Gepraat van Erasmus – het julle gesien hoe die Sesnasies-afrigters hom probeer naboots?
Ons wil ook baie graag van jou hoor! Stuur aan ons stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport -
In vandeesweek se Rapport Praat Sport sluit Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie, hom by ons aan om te praat oor al die uitdagings op die rugbylandskap. Hy benadruk die belangrikheid van goeie, betroubare ekwiteitsvennote in rugby en sê ’n 12-maande-rugbykalender is nie volhoubaar nie. Ons praat ook oor Matthew Breetzke se spogbeurt teen Nieu-Seeland, Dricus du Plessis se oorwinning oor Sean Strickland en die Bulle se “tronk-ontsnapping” in Kaapstad.
Ons wil ook baie graag van jou hoor! Stuur aan ons stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport -
Dit is ’n waterskeidingsweek vir Suid-Afrikaanse rugby, met ’n reuse-vergadering wat Donderdag in Johannesburg plaasvind. Hendrik Cronjé sê sommige rugbybase voel die toekoms vir Suid-Afrikaanse rugby lê in ’n stelsel met slegs ses tot agt beroepspanne, en die res wat dan amateur-status het.
Ons gesels ook oor die SA20-liga, Sesnasies-reeks, Dricus du Plessis se reuse-geveg teen Sean Strickland wat voorlê en oor die onervare Protea-span wat gekies is vir die driehoekige toernooi teen Nieu-Seeland en Pakistan. Ons hoor ook by Rob Walter hoe hy voel oor Temba Bavuma se gereedheid vir die Kampioenetrofee, nadat die Protea-kaptein nie in die SA20-liga in aksie was nie.
Ons wil ook baie graag van jou hoor! Stuur vir ons stemboodskappe wat ons op die volgende episode kan speel na 076 878 1787. Sport | Rapport -
In dié week se Rapport Praat Sport sluit Vlok Cilliers hom by ons aan om te gesels oor Frankryk se voorbereiding vir die Sesnasies-reeks. Hy verduidelik wat van Antoine Dupont so ’n spesiale speler maak, en verklap ook wie die beste skopper is wat hy tot nog toe afgerig het. Jóhann Thormählen keer ook vir sy paaltjies ná nóg ’n wilde Stormers-voorspelling. Laat weet ons wat jy dink by [email protected], of stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787. Sport | Rapport
-
In vandeesweek se Rapport Praat Sport sluit Albert Heenop hom by Tinus van Staden en Jóhann Thormählen aan en deel staaltjies en inspirerende stories oor al die sportlui met wie hy al gesels het vir sy gewilde Wat het geword van-onderhoude. Hy vertel stories van Frik du Preez, Gary Player, Tommy Bedford, Rob du Preez, Kallie Knoetze, Shaun Tomson . . . en een van Leon Schuster en Dok Craven wat jy nié wil misloop nie. Laat weet ons wat jy dink by [email protected], of stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787. Sport | Rapport
-
Dié week op Rapport Praat Sport sluit die Protea- en MI Cape Town-kolwer Rassie van der Dussen hom by ons aan. Hy onthul dat sommige oorsese spelers in vorige reekse van die SA20-liga “bloot in Kaapstad was om vakansie te hou”.
Laat weet asseblief wat jy dink by [email protected], of stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787. Sport | Rapport -
Die meeste Springbok-ondersteuners ken teen dié tyd al die naam Ben Smith... Daai Nieu-Seelandse rugbyskrywer wat nie ’n goeie woord oor die Bokke te sê het nie. In dié week se Rapport Praat Sport spreek ons die wens uit dat die Springbokke hom met twee wegseges oor die All Blacks in sy baan kan hou. Ons praat ook oor Rassie Erasmus se planne vir die jaar, en wonder of die Proteas nie dalk ’n beter kans staan as wat mense dink om die Aussies op Lord’s te klop nie. Wat is jou sportwense vir 2025? Laat weet ons by [email protected], of stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787. Sport | Rapport
-
As hy nou terugkyk, glo George Linde hy moes ’n sielkundige gaan sien nadat hy op onverklaarbare wyse weggelaat is uit die Protea-groep vir die T20-Wêreldbeker-toernooi vir 2021. Maar nou is hy terug in die Protea-prentjie, en hóé! In dié week se Rapport Praat Sport vertel hy ook die staaltjie van hoe hy die bus verpas het vir die kragmeting met Pakistan verlede week, en lig die sluier oor die geestelike ingesteldheid waarmee hy deesdae op die krieketveld stap. Tinus van Staden en Jóhann Thormählen kies ook hul top-drie- Suid-Afrikaanse sport-oomblikke, en -sportsterre van 2024. Laat weet ons wie jy sou kies by [email protected], of stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787. Sport | Rapport
-
Dit is nie toevallig dat Ivan “Cash” van Rooyen juis die Lééus se hoofafrigter geword het nie. Hy het immers tussen die Groot Vyf skoolgegaan. In dié week se Rapport Praat Sport gesels Hendrik Cronjé en Tinus van Staden met Van Rooyen oor die Leeus se opgang, en sy grootwordjare in die Krugerwildtuin. Ons hoor ook watter Suid-Afrikaanse span Frédéric Michalak glo die beste gaan vaar in die Kampioeneliga. Jóhann Thormählen vertel hoe die atmosfeer by die Kaapstad-sewestoernooi was. En hier is ’n triviavraag vir jóú: Vanjaar het vyf Proteas hul eerste toetshonderdtalle geslaan. Die jaar met die vorige meeste debuut-honderdtalle was in 2016, toe drie Protea-kolwers die eerste keer dié mylpaal bereik het. Wie was dié drie kolwers? Laat weet ons by [email protected], of stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787. Sport | Rapport
-
In dié week se Rapport Praat Sport sluit Jaco Peyper – die Springbokke se reël-adviseur, oftewel blaser-breier – hom by ons aan en gesels oor alles van Jerry Flannery se Afrikaans tot sy eie rol aan Rassie Erasmus se sy. Tinus van Staden en Jóhann Thormählen praat ook oor hoe Wêreldrugby sewesliefhebbers beroof met ’n onsinnige nuwe formaat vir die toernooi in Kaapstad. Ons wonder ook hardop of SA Rugby se plan om ’n vennootskap met die Amerikaanse belegger Ackerley te sluit Vrydag gaan sneuwel. Laat gerus van jou hoor by [email protected], of stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787. Sport | Rapport
-
In dié week se Rapport Praat Sport onthul Hendrik Cronjé dat Rassie Erasmus pas ’n groot operasie ondergaan het. Ons praat ook oor die toekoms van Steven Kitshoff se loopbaan ná ’n nekoperasie, en neem die Bokke se spogseisoen in oënskou. Laat weet ons gerus wat jou hoogte- en laagtepunte van die jaar was, by [email protected], of stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787. Wees ook op die uitkyk – volgende week het ons weer ’n spesiale gas wat hom by ons aansluit. Sport | Rapport
-
Johan Ackermann sluit hom dié week by Tinus van Staden, Hendrik Cronjé en Jóhann Thormählen op Rapport Praat Sport aan om te gesels oor sy nuwe rol by die Junior Springbokke. Hy verduidelik waarom hy dié pos aanvaar het, verklap ’n paar geheime van Japanse klubrugby en erken ’n pos by die Bokke iewers in die toekoms is iets wat hy met albei hande sal aangryp. Peter Engledow, Cameron Hanekom se skole-afrigter, vertel van die dag dat Hanekom vir hom gesê het: “Meneer, ek sal dít nooit weer toelaat nie.” En voel dit vir jou ook of Rassie Erasmus na Cardiff opruk met ’n bazoeka om ’n hasie te jag, waar ’n windbuks sou deug? Sport | Rapport
- Vis mere